Wednesday, 16 March 2016

#5 Kinders moet gesien EN gehoor word


"Children should be seen and not heard."

Hierdie is 'n ou gesgte wat mens as kind té veel keer gehoor het. Of dit nou jou ouers of ouma was, onderwysers of net die 'n ou knorrige tannie by die supermark... dit was al vir jou gesê! Kinders word dikwels stil gemaak omdat "julle opinie nie geld nie... julle is net kinders." Die feit is egter dat hierdie kinders wie se opinies "nie moet geld nie" die hoop en weg is van die toekoms. Hulle IS die toekoms. Dus is hulle nie net daar vir "dekoratiewe" doeleindes nie, maar ook om gehoor te word. Bowen dit moet ons as grootmense ook LUISTER en nie nét hoor nie... Kinders moet dus van kleins af geleer word hoe om 'n grondige opinie te ontwikkel... om te leer hulle het 'n stem...kritiese denke moet dus gekweek word by kinders. 


Dikwels het kinders nie die geleentheid om by die huis gehoor te word nie. Kinders se stem word stilgemaak deur ouers wie slegs hul eie belange op die hart dra weens omstandighede. Dus moet ons, as onderwysers, 'n omgewing skep in die klaskamer waar leerders die selfvertroue het om hul sê te sê, vrae te vra en dus net gehoor te word. Kritiese denke kan sodoende in die klaskamer geskep en ontwikkel word om uiteindelik kritiese en opgevoede volwassenes te kweek. Dit is dus ons werk as onderwysers om 'n omgewing in die klaskamer te skep wat as veilie hawe vir die leerders kan dien waar hul stem wel gehoor sal word. Hierdie veilige hawe kan op verskeie maniere geskep word...

Eerstens moet mens na jouself as onderwyser kyk en 'n paar vrae vir jouself afvra:

Wie is ek en hoe kom ek voor vir die leerders? Is ek toeganklik, vriendelik? Boesem ek vertroue in? Hoe praat ek met die leerders? Moedig ek hulle aan om hul opinie te lig/vrae te vra? Weet die leerders ek gee om? 

Leerders moet besef ek as onderwyser is daar vir HULLE en HULLE is wat vir my belangrik is. Ek stel hulle belange eerste. Hierdie gevoel kan aan leerders oorgedrae word deur op 'n emosionele vlak met hulle te "connect". Toon empatie, vier fees saam met hulle as iets goeds gebeur het en "huil" saam met hulle as iets slegs gebeur het. As leerders emosioneel jou vertrou sal hulle makliker oopmaak en deel... nie net op emosionele vlak nie maar ook op 'n meer akademiese gebied. Dit is egter belangrik dat hierdie emosies nie aangesit word nie maar dat mens (inderwysers) dit regtig moet voel. Kinders weet wanneer 'n onderwyser eg is of nie. 

Konstruktiewe en positiewe kommunikasie en reaksie op vrae tussen my (die onderwyser) en die leerders is ook baie belangrik. Hoe ek reageer op 'n vraag sal maak dat hulle nog vrae wil vra of nie. 'n Positiewe omgewing moet dus geskep word. Dit is ook van uiterse belang om te weet hoe die leerdes in jou klas die beste leer. KEN hulle. VERSTAAN hulle en pas sodoende die les aan om by hulle te pas. 

Die fisiese voorkoms van die klaskamer is ook van kardinale belang. Pas jou omgewing aan om 'n ideale leeromgewing te skep vir die spesifieke vakgebied wat jy aanbied. Sodoende sal leerders meer gemaklik voel in die klaskamer en dan sodoende ook makliker kommunikeer. Dit is egter so dat in ons land daar vreeslik baie skole is wat nie voldoende infrastruktuur het en/of oor belangrike klashulpmiddels beskik nie. Weet vooraf wat hierdie struikelbokke is en probeer dit oorkom deur kreatief te dink en goed voor te berei. Leerders sal hierdie moeite raaksien en jou (hopelik) beloon met beter en positiewe gedrag.

Bowenal is die grondslag waarop alles gebou moet word (in my oë) in 'n klaskamer wedersydse RESPEK. Indien die leerders besef jy respekteer wie en wat hulle is, waar hulle vandaan kom en wat hulle atergrond is, sal hulle respek aan jou terug betoon. Sodoende kan die positiewe verhouding tussen onderywer en kind verder bevorder word wat sal lei daartoe dat leerderds die vrymoedigheid sal hê om te praat. En deur te praat, leer mens om te verstaan. En as mens verstaan, is die leerproses lekker. En skool moet darem tog nog lekker wees... of hoe?


No comments:

Post a Comment